Search Engines Google Yahoo Website Visibility
Internet Searching Articles

 

Page last modified: 09 February 2009



 

+ Sitemap
+ Homepage

+ Book on Website Visibility
- Contact Book Author
- Target Market
- Buy book now
- Book Content
- Other Books
- Similar Publications
- What's Different
+ Research Resources
+ Research Funding One Stop Shop
+ Cape Peninsula University of Technology
+ Internet Searching
- List of Search Engine URL's
- Internet Searching Newspaper Articles
- Internet Search Engine FAQ
- FOIOTI
+ Contact the Author
ARTIKEL NOMMER 1 - 16 November 1999
ARTIKEL NOMMER 2 - 30 November 1999
ARTIKEL NOMMER 3 - 14 Desember 1999
ARTIKEL NOMMER 4 - 25 Januarie 2000
ARTIKEL NOMMER 5 - 15 Februarie 2000
ARTIKEL NOMMER 6 - 29 Februarie 2000

 

You will find a copy of a series of articles on Internet Searching below. These articles appeared country-wide in the following South African Newspapers: "Die Burger", "Beeld" and "Die Volksblad" between November 1999 and February 2000. Since all 3 are Afrikaans newspapers, the articles will unfortunately not be useful to overseas readers (except if you are Dutch!).

Alle artikels wat hieronder verskyn is die oorspronklike weergawe, nie die een wat in die koerant verskyn het nie. In baie gevalle is die oorspronklike een meer volledig, aangesien die redakteur soms moes snoei om alles in te pas. Voorbeelde van soektogte wat in die artikels gebruik word, sal heel moontlik 'n ander aantal antwoorde oplewer as u dit vandag sou herhaal. Dit is as gevolg van die Indeks wat gedurig opgedateer word. Al die artikels hieronder is op een webbladsy geplaas. Alhoewel dit baie lank raak, is dit maklik om gedeeltes te selekteer en uit te druk.

ARTIKEL NOMMER 1 - 16 November 1999

Hierdie is die eerste van 'n reeks artikels oor Internet soektogte. Die doel van die artikels is om dit vir jou makliker te maak om inligting op die Internet te vind.

Die Internet bied 'n onmeetbare hoeveelheid inligting aan die gebruiker, maar dit is ongelukkig nie georden (soos in 'n biblioteek) nie. Die gebruiker moet dus self weet hoe en waar om te soek. Gelukkig is daar 'n groot aantal soekmasjiene beskikbaar, wat die taak effens vergemaklik.

Alle soekmasjien adresse wat in hierdie artikels genoem word, kan gekliek word op
http://www.mwe.co.za

Gaan kyk gerus en laai 'n paar van die meer bekendes: Alta Vista, Excite, Hotbot, Infoseek, Looksmart, Lycos, Webcrawler, Yahoo, Mamma, Metacrawler, Profusion, ens.

Alle soekmasjiene bestaan uit drie komponente: die Gesig, die Indeks en die Versamelaar. Die Gesig is wat jy op die skerm sien wanneer jy die program self laai (soos die voorbeelde hierbo). Gesigte is soms maklik, soms moeilik om te gebruik. Almal het egter 'n spasie waar jy een of meer leidraadwoorde kan intik en dan op "Search", "Go", "Find" of iets dergeliks kan kliek.

Die Indeks is 'n massiewe lęer waarin al die inligting waaroor die soekmasjien beskik, gestoor word. Wanneer jy 'n soektog doen, word die Indeks (en nie die Internet self nie) deurgesoek en die resultate via die Gesig na jou skerm herlei. Dit is hoekom 'n soekmasjien soms antwoorde binne sekondes produseer - dit is onmoontlik om in so 'n kort tydjie die Internet self deur te soek.

Die Versamelaar is 'n outomatiese program of 'n groep mense. In albei gevalle vaar hulle eenvoudig daagliks die Internet binne, versamel alles wat hulle teekom en stoor dit in die Indeks. Alta Vista en Infoseek gebruik programme, terwyl Yahoo en Looksmart mense vir hierdie funksie gebruik. Programme produseer groter maar minder relevante indekse, terwyl mense heelwat kleiner maar meer relevante indekse gee.

'n Eenvoudige eksperiment sal gou bostaande bewys. Laai elkeen van Alta Vista, Infoseek, Yahoo en Looksmart, tik die leidraad "computer" in (sonder die aanhalingstekens) en begin die soektog.

&&&&&&&&&&&&&&&&&&&&&&&&&&&&&&&&&&&&&&&&&&&&
SIDEBAR:

Wanneer jy met meer as een soekenjin werk, moenie die programme apart gebruik nie (soos in die ou DOS dae!). Laai al vier of vyf, een na die ander, in geheue. Terwyl jy die een se resultate deurlees, sal die ander solank voortsoek in die agtergrond. In die proses spaar jy heelwat tyd.
&&&&&&&&&&&&&&&&&&&&&&&&&&&&&&&&&&&&&&&&&&&&

Jy behoort die volgende benaderde aantal antwoorde te kry (onthou die Indeks verander daagliks!): Alta Vista (43,753,111), Infoseek (8,620,722) teenoor Yahoo (27,909) en Looksmart (ongeveer 10 kategorieë met verdere indelings). Die groot verskil in aantal antwoorde tussen die eerste en die laaste twee dui op 'n verskil in indeksgrootte.

Uit hierdie oefening is dit duidelik dat 'n enkele woord as leidraad selde sinvolle antwoorde produseer. Wie het die tyd om deur miljoene, selfs honderde antwoorde te ploeg op soek na die regte een? Kom ons kry meer duidelikheid oor waarna jy presies soek: die woord "computer" is hopeloos te wyd, soos jy uit die massas antwoorde kan aflei. Aanvaar dat jy eitlik op soek is na werk in die rekenaarbedryf in Suid Afrika. Probeer dieselfde oefening as hierbo met die leidraad "computer employment in South Africa" (weer sonder aanhalingstekens). Jou antwoorde behoort nou as volg te wees: Alta Vista (956,825), Infoseek (58,582,355) teenoor Yahoo (4) en Looksmart (ongeveer 9 kategorieë met verdere indelings).

Drie uit die vier soekmasjiene produseer nou radikaal minder antwoorde, met 'n hele paar sinvolle webwerwe onder die eerste 10! Infoseek se eienaardige toename in plaas van afname in antwoorde kan toegeskryf word aan implisiete logiese bewerkers (AND, OR, ens) wat in 'n latere artikel aangespreek word.

Hierdie eksperiment bewys 'n baie belangrike punt: jy moet mik om MINDER eerder as MEER antwoorde uit 'n soekmasjien te kry. Indien jy dit regkry om die aantal antwoorde af te bring van miljoene na tientalle, is die kanse baie goed dat jy 'n sinvolle antwoord onder die eerste tien gaan kry. Hierdie proses van 'n goeie leidraad opbou vir 'n spesifieke soekmasjien is 'n kuns wat tyd neem om aan te leer, en wat jy teen die einde van hierdie reeks sal bemeester.

Om af te sluit, kom ons probeer om die probleem met Infoseek uit te sorteer sonder om nou al met logiese bewerkers deurmekaar te raak. Met behulp van stapsgewyse verfyning kan ons tog die regte antwoord kry. Tik eers net "South" by Infoseek in, en doen 'n soektog. Jy behoort so 3,2 miljoen antwoorde te kry. Tik nou "Africa" in, kliek op "Search Within Results", en soek weer. Nou behoort jy net onder 23,000 antwoorde te kry - heelwat beter! Probeer nou "IT" (onthou "Search Within Results") en jy kry 126 antwoorde - ons kom al nader. Laastens behoort "employment" met drie antwoorde vorendag te kom, waarvan die Gateway webwerf is waarna jy soek.

Om vinnig op te som, behoort jy nou die volgende te weet:

1. Daar is baie soekmasjiene om uit te kies, en hulle verskil heelwat van mekaar. Geeneen sal elke keer die regte antwoorde produseer nie.

2. Moet nie 'n enkele woord as leidraad vir 'n soekmasjien gee en sinvolle antwoorde verwag nie.

3. Dit is maklik maar sinneloos om baie antwoorde uit 'n soekmasjien te kry - mik vir minder, meer sinvolle antwoorde.

4. Elke soekmasjien het ander eienskappe wat jy handig kan vind.

Aan die einde van hierdie reeks artikels behoort jy in staat te wees om:
die regte soekmasjiene te kies vir 'n sekere taak, goeie leidrade op te bou en min maar sinvolle antwoorde uit soekmasjiene te kry.

As jy antwoorde soek, kyk in hierdie hoek vir nog meer volgende keer!

 

ARTIKEL NOMMER 2 - 30 November 1999

SOEKTOGTE - 'n FRASE BRING SUKSES
http://www.mwe.co.za


Hierdie is die tweede van 'n reeks artikels oor Internet soektogte. Alle soekmasjiene wat in hierdie artikels genoem word (bv Lycos, Northern Light, Excite en Hotbot), se adresse kan gekliek word op die URL hierbo.

ENKELWOORDE
Ons het in die vorige artikel gesien dat 'n enkelwoord as spesifikasie selde sinvolle antwoorde lewer. Uitsonderings is wanneer die woord redelik uniek is, bv. mediese, tegniese en baie spesifieke terme, asook eiename. Gebruik Lycos en doen die volgende drie aparte enkelwoord-soektogte: oesophagus, derraileur en Johannes. Jy behoort onderskeidelik 683, 5, en 4 antwoorde te kry. As jy elke keer deur die eerste paar lees, sal jy saamstem dat dit op die oog af relevant lyk - mens kan aflei dit het te doen met jou slukpyp, 'n fietskomponent en iemand se naam. Die rede is dat al drie woorde redelik uniek is. Ons mis egter nog steeds 'n baie belangrike punt: Waarvoor soek ek eintlik?


SPESIFIKASIE
Die antwoord is dat jy 'n baie duidelike spesifikasie moet uitwerk VOORDAT jy begin soek. Die volgende spesifikasies is bv. heeltemal te vaag: "Wereldbeker sokker", "ekonomiese aanwysers" of "koerante". Indien jy meer spesifiek is, sal jy egter maklik by 'n antwoord uitkom, soos ons verderaan sal sien. Goeie spesifikasies vir bostaande is: "Waar word die 2002 wereldbeker sokkerkompetisie gehou?", "Ek soek 'n lys van ekonomiese aanwysers vir vandag" en "Watter Suid Afrikaanse koerante is op die web beskikbaar?". Al klink dit vervelig of onnodig, dwing jouself om dit wat jy soek in 'n enkele volledige sin te beskryf.


FRASES
Aangesien enkelwoorde as soekspesifikasie selde werk, en ons nou weet dat jy 'n volledige spesifikasie moet saamstel, is die volgende stap om frases te begin gebruik. 'n Frase is twee of meer woorde, maar nie 'n hele sin nie. Die frase moet egter deel van 'n denkbeeldige sin uitmaak. Die volgende frases pas nie in 'n denkbeeldige sin in nie: "verkope motor onderdele" en "rekenaar pryse nuut". Maar "motoronderdeel handelaars" of "rekenaar pryslys" sou wel kon inpas.


WERELDBEKER SOKKER
Kom ons gebruik Northern Light (een van die soekmasjiene met 'n baie groot indeks) om vier keer apart vir die volgende frases te soek. Sluit nou die aanhalingstekens in, en skryf die aantal antwoorde neer: "World Cup", dan "World Cup Soccer", dan "World Cup Soccer 2002" en laastens "Where is the 2002 World Cup Soccer series being hosted?". Jy behoort die volgende aantal antwoorde te kry (benaderd): 335000, 18800, 25 en 0.

Indien jy die 3de soektog ("World Cup Soccer 2002") se antwoorde gaan deurlees, is dit maklik om uit te vind dat dit Japan en Korea is. Soos die frase langer en meer beskrywend word, word die aantal antwoorde minder! Dit is goeie nuus, want ons weet reeds dat minder antwoorde beter is as meer. Teen die einde kry jy egter skielik nul antwoorde - die frase is nou te lank (sommer 'n hele sin) en te spesifiek, en is nie te vinde op enige webbladsy nie. Weereens is hier ook uitsonderings - sommige soekmasjiene poog om wel jou volsin te interpreteer en tog antwoorde te produseer. Meer hieroor in 'n latere artikel. Kan iemand my dalk laat weet hoekom daar so 'n groot afname in die aantal antwoorde was tussen die 1ste en 2de frasesoektogte? (meliusw@yahoo.com).

EKONOMIESE AANWYSERS
Net so kan ons die tweede spesifikasie hierbo probeer vind. Gebruik Excite en tik (drie aparte soektogte, met aanhalingstekens) die volgende in: "economic", dan "economic indicators" en dan "today's economic indicators". Kyk onder "Web Results" op die skerm, en jy sal sien dat die aantal antwoorde daal vanaf 912000 tot 9! Kyk deur die laaste stel antwoorde, en jy behoort jou aanwysers sommer by die eerste gelyste webwerf te vind.


KOERANTE
Laastens kan ons probeer om meer uit te vind oor Suid Afrikaanse koerante op die net. Laai Hotbot, en doen die volgende aparte soektogte met aanhalingstekens: "South", dan "South African" en dan "South African newspapers". Soek weer vir "Web Results" op die skerm, en jy sal sien dat die antwoordtal daal van meer as 2,4 miljoen tot by net enkeles. 'n Volledige lys met Suid Afrikaanse webkoerante is by die africanfocus webwerf van die derde soektog te vinde!

Om vinnig op te som, behoort jy nou die volgende te weet:

1. Jy kan sukses met enkelwoordsoektogte verwag slegs as die woord baie uniek (en die spelling korrek!) is.

2. Jy behoort 'n volledige spesifikasie vir jouself op te stel voordat jy met 'n soektog begin.

3. Indien jy van frases gebruik maak, verminder jy die aantal antwoorde en verbeter jy jou kanse op sukses. Hoe langer die frase, hoe minder antwoorde. Gebruik frases wat in 'n volledige sin sou kon inpas, en nie net 'n los versameling van woorde nie.

4. Gebruik aanhalingstekens rondom die frase, om aan te dui dat jy die woorde presies soos jy dit intik, in volgorde, soek. Onthou dat korrekte spelling en die gebruik van hoofletters belangrik is. Gebruik hoofletters slegs waar dit in normale gebruik hoort.

 

ARTIKEL NOMMER 3 - 14 Desember 1999

SOEKTOGTE - PLUSSE EN MINUSSE WAT NIE OPTEL EN AFTREK NIE.

http://www.mwe.co.za

Hierdie is die derde van 'n reeks artikels oor Internet soektogte. Net om jou wakker te hou, van die onderwerpe wat in die volgende eeu hier aangespreek sal word, sluit die volgende in: Logiese bewerkers (AND, OR, ens), Natuurlike Taal soektogte, allerhande handige wenke en natuurlik 'n vergelyking tussen soekmasjiene.

In hierdie aflewering sal jy sien hoe die gebruik van die + simbool (woord insluiting) en die - simbool (woord uitsluiting) jou baie gou by die regte antwoorde kan bring sonder enige wiskunde!

Vir hierdie artikel: Laat in alle gevalle die aanhalingstekens uit, en klik soekmasjiene wat hier genoem word (bv AltaVista en Goto) se adresse op die URL hierbo.


OPTEL EN AFTREK?
Indien jy 'n soekmasjien wil forseer om slegs webwerwe te lys wat wel 'n sekere woord bevat, tik jy net eenvoudig 'n plus simbool (+) voor die woord, sonder 'n spasie. Gewoonlik kom jy dan agter dat daar nou ook 'n klomp ander antwoorde gelys word, wat niks te doen het met wat jy eintlik soek nie. In so 'n geval kan jy dan weer die program forseer om webwerwe wat ongewenste woorde bevat, uit te laat met die minus simbool (-). Indien jy bv raad soek met 'n Windows 98 probleem, en jy tik net "Windows" in, gaan jy sekerlik antwoorde kry wat alle geure van Windows insluit. Die volgende spesifikasie behoort jou fokus heelwat te verskerp: "+Windows +98 -95 -NT -3.1 -3.11".

LIRIESE BYSTEKE
Kom ons aanvaar jy soek die woorde van die bekendste liedjies van Sting. Aangesien ons almal ingebore lui is, kan ons aanvaar dat jy slegs die soeksleutel "+Sting" in AltaVista se soekkassie intik. Grappie - 199000 plus antwoorde. Goed, goed, probeer "+Sting +Police +lyrics". Alhoewel jy nog steeds net oor die 2200 antwoorde kry, wat baie is, kry jy meer as een relevante antwoord onder die eerste tien webwerwe. Deur Altavista te forseer om slegs webwerwe te lys waar al drie jou soeksleutel se woorde op voorkom, het jy 'n kortpad na die antwoord gevind.

SKEEPSWRAKKE
Alweer 'n skoolprojek oor skeepswrakke aan die Suid Afrikaanse kus! Gelukkig weet jy dat die * simbool agter aan 'n woord beteken dat enige ander letter(s) die woord kan volg. Dus sal "shipwreck*" ook webwerwe met die woord "shipwrecks" insluit. Tik dus "shipwreck*" by AltaVista in, en meer as 312000 antwoorde oordonder jou skerm. Na 'n vinnige paar kyke sien jy dat Amerikaanse skeepswrakke redelik algemeen voorkom. Probeer nou: "shipwreck* -United -States -America +South +Africa*", en jy behaal sukses sommer onder die eerste 10 antwoorde uit net meer as 1000. Die hoofletters help ook om irrelevante antwoorde uit te sny - united, states, america, south en africa word uitgelaat.

HTML
Jy soek dringend na 'n eenvoudige inleiding met baie voorbeelde tot die gevreesde HTML programmeringstaal. Gaan na Goto, en tik "+HTML" in. Heelwat antwoorde, met 'n paar wat belowend lyk, maar jy vind dat die volgende wat jy nie soek nie redelik gereeld voorkom: verwysings na HTML boeke, gevorderde inligting bokant jou vuurmaakplek en verwysings na Java en JavaScript. Jy verander die soekleidraad na "+HTML -book* +tutorial* -java -Java -JavaScript" en kry 'n baie beter gefilterde lys. Onder die eerste 40 webwerwe is daar ten minste 30 wat presies aan jou vereistes voldoen!

Om op te som, behoort jy nou die volgende te weet:

1. Stel jou soekspesifikasie as een volledige sin op, met soveel sleutelwoorde as moontlik.

2. Gebruik die + simbool, met hoofletters en sterretjies soos nodig, om 'n soeksleutel uit hierdie soekspesifikasie op te bou, en begin die soektog.

3. Lees vinnig deur die aanvanklike antwoorde, en kyk vir 'n patroon onder die ongewenstes. Las nou ongewenste woorde saam met die - simbool by jou soeksleutel van 2. hierbo, en soek weer. Onthou om spasies te laat tussen woorde maar nie tussen 'n woord en sy eie + of - simbool nie.

4. Herhaal die proses totdat jy min maar relevante antwoorde kry, en begin dan webwerwe besoek totdat jy sukses behaal!

Mag jy al die antwoorde wat jy soek binne die eerste 5 minute en 10 webwerwe kry in die nuwe eeu!

 

ARTIKEL NOMMER 4 - 25 Januarie 2000

MULTISOEKMASJIENE - NOG MEER ANTWOORDE?

http://www.mwe.co.za

Hierdie is die vierde van 'n reeks artikels oor Internet soektogte. Ons kyk nou na Multisoekmasjiene (MSM'e) - programme wat gewone soekmasjiene in parallel gebruik om hulle werk te doen in 'n poging om beter antwoorde te gee.

Klik MSM'e wat in hierdie artikel genoem word (bv AskJeeves, Metacrawler, SavvySearch, ens) se adresse op die URL hierbo. Rol die bladsy na onder, en soek onder die hofie "Meta Search Engines" vir die adresse. Laat aanhalingstekens by soekspesifikasies uit.


VERSAMELAAR? INDEKS? GESIG?
Uit die eerste artikel van die reeks kan jy dalk die volgende onthou: soekmasjiene is programme wat Versamelaars gebruik om inligting oor webwerwe in 'n Indekslęer te stoor, waar dit deur 'n Gesig op jou bevel uitgehaal word. Die Versamelaar kan mense of outomatiese programme wees, die Indeks is 'n groot rekenaarlęer, en die Gesig is dit wat jy op jou skerm sien wanneer jy 'n soekmasjien laai.

MSM
'n MSM is 'n soekprogram met slegs 'n Gesig - hy gebruik die Indekse (en dus ook die Versamelaars) van meer as een ander, gevestigde soekmasjiene om antwoorde te kry. Alhoewel die MSM nie self die soektog doen nie, neem die proses gewoonlik langer as met 'n enkele soekmasjien, aangesien hy vir al die antwoorde moet wag voordat hy dit kan opsom en aan jou terugbesorg.

Gewoonlik is MSM'e nie gewild onder die eienaars van soekmasjiene nie, aangesien die gebruiker van sę maar Profusion glad nie die banieradvertensies van AltaVista, Infoseek en die ander sewe soekmasjiene sien nie. Dit beteken dat baie mense die webwerwe besoek, maar die moontlike aantal response op advertensies is kleiner.

ROLSPELERS
Soos met gewone soekmasjiene, is daar baie MSM'e beskikbaar, nuwes kom gedurig by en oues verdwyn stil-stil van die toneel. 'n Paar wat of al lank bestaan of as goed beskou word:

Ask Jeeves
'n Natuurlike taal program - jy tik jou spesifikasie in Engels in, en hy lys 'n reeks moontlike antwoorde, wat elkeen 'n verdere soektog aan die gang sit.

Metacrawler
Gee ook heelwat gidse as 'n alternatief vir woordsoektogte op die skerm.

Profusion
Bedryf deur personeel by die Kansas City University, redelik eenvoudige maar kragtige Voorkant waar jy maklik kan kies hoe jy jou soektog wil laat plaasvind.

SavvySearch
Baie bekend onder navorsers.

VRA DIE KNEG
Laai Ask Jeeves, en probeer uitvind of die Kneg wel altyd die antwoorde het! Kom ons sę jy wil uitvind wat die simptome van anorexia nervosa is. Tik in die soekvenster: "I need to find the symptoms of anorexia nervosa". Die tweede antwoord lei jou na 'n webwerf met presies wat jy gesoek het (klik weer op "Ask")!

Hoekom was hierdie soektog so suksesvol? Omdat die spesifikasie kort maar baie spesifiek was, en omdat daar drie belangrike (korrekte spelling!) sleutelwoorde was: symptoms, anorexia en nervosa. Dit is baie interessant om te gaan kyk na wat ander mense voor soek (as jou tydsberekening reg is, kan jy jou eie spesifikasie sien verskyn!). Klik op die rooi "Right Now" (tuisbladsy), en sien elke 30 sekondes 'n stel lewendige soekspesifikasies.

DIE WERELD SE GROOTSTE SPORTGELEENTHEID
Jy wil die URL van die amptelike Tour De France webwerf opspoor. Laai Metacrawler, en tik in "Tour de France". Die heel eerste van die 71 gelyste antwoorde se adres is www.letour.fr. Die fr sę reeds dat die webwerf in Frankryk is, en drie soekmasjiene het hom gevind (teenoor twee en een vir die ander antwoorde). Verder is dit die enigste webwerf wat meer as een keer gelys word - sukses!

Onderaan elke antwoord kan jy sien watter soekmasjiene die antwoord gevind het, en heel onderaan word alle soekmasjiene wat gebruik word, gelys. Dit is interessant om te sien watter soekmasjiene stadiger as ander is - die ouens wat na 'n sekere tyd nie antwoorde produseer nie, word gelys onder "time-out"!

KING KONG
SavvySearch het 'n skoon Gesig, en lys ook 'n groot aantal gidskeuses. Daar is selfs Gesigte in ander tale heel onderaan. Probeer gerus die Nederlandse en Duitse weergawes se Gesigte laai - heeltemal verstaanbaar!

Jy wil uitvind hoe hoog die arme aap geklim het, so jy tik in "Empire State Building height" met die AND knoppie gedruk, want jy wil al vier woorde in die antwoord sien. Jy sal die skermterugvoer oor die vordering van die soektog baie handig vind, en die antwoorde kom verbasend vinnig terug. Jy behoort jou antwoord (381m) in die opsommings van die eerste vyf antwoorde te kry, sonder om eers 'n webwerf te besoek!

DIE AKADEMIE
Laai Profusion, en verken gou die Voorkant: jy kies die aantal resultate wat jy wil lys, of jy webwerf opsommings wil sien of nie, en of hiperskakels getoets moet word of nie (tydrowend om wel te doen, maar kan tyd spaar indien jy baie webwerwe gaan besoek.) Jy kan selfs verskeie keuses uit die gelyste soekmasjiene maak: vinnigste drie as jy haastig is, beste drie as jy baie spesifieke antwoorde soek, almal as jy wil seker maak jy kry iets, of enige kombinasie uit die nege.

Ons gaan probeer om die adresse van al die Universiteite en Technikons in die land te kry. Tik in: "address University Technikon South Africa", en maak die volgende keuses op die skerm: AND, 1-20, Yes, No. Onder die eerste tien atwoorde uit die 86 kry jy presies wat jy soek!

Net om op te som:

1. Persoonlik vind ek dat MSM'e meer akkurate antwoorde gee as 'n enkele soekmasjien - moet egter nie by een vasval en weier om ander programme ook te probeer nie.

2. Gebruik 'n MSM as 'n gewone soekmasjien nul antwoorde produseer vir 'n soektog.

3. Gebruik 'n MSM as jy iets soek wat jy weet moeilik gaan wees om te kry - hulle soek oor 'n wyer veld as 'n enkele soekmasjien.

4. Moenie 'n MSM gebruik met 'n ingewikkelde spesifikasie nie - die MSM kan probleme kry met die interpretasie van jou spesifikasie en die korrekte omskakeling.

5. Moenie 'n MSM gebruik as jy haastig is nie - hulle neem gewoonlik langer om resultate te lewer as gewone soekmasjiene.

 

ARTIKEL NOMMER 5 - 15 Februarie 2000

OF, EN en NIE - MAAK DIT MEER SIN?

http://www.mwe.co.za

Hierdie is die vyfde van 'n reeks artikels oor Internet soektogte. Ons kyk hier na logiese operateurs en kombinasies om jou antwoorde nog meer akkuraat te maak.
Klik soekmasjiene wat in hierdie artikel genoem word (bv HotBot, Goto, ens) se adresse op die URL hierbo.

LOGIKA?
Jy kan Logiese Operateurs (ook genoem Boolse bewerkings - goggas soos AND, OR, NOT en NEAR) gebruik om jou fokus met 'n soektog te verskerp, en meer akkurate antwoorde met minder moeite te kry. Tik altyd hierdie operateurs in hoofletters, en omring die sleutelwoord met spasies, bv: Rapport AND cycling AND results, Leonardo AND Vinci NOT Caprio, ens. Jy behoort ook hakies te gebruik wanneer jou spesifikasie meer ingewikkeld raak - sien voorbeelde hieronder.

AND/OR
Die AND operateur doen maar net wat hy sę: slegs webwerwe met albei woorde aan weerskante van die AND sleutelwoord sal gelys word. Jy behoort dus minder antwoorde te kry as met net een woord. Mens gebruik hom gewoonlik as jy te veel antwoorde met 'n aanvanklike soektog kry.

Die OR operateur lys weer alle webwerwe wat die een woord OF die ander een bevat. Hy gaan verseker meer antwoorde gee as net 'n enkele woord. Gebruik hom maar versigtig - gewoonlik net met sinonieme of woorde wat met hoof- of kleinletters gespel word.

Kom ons sę jy soek 'n Internet kafee in Kaapstad. Laai HotBot, klik op die "Look for" boksie links bo, selekteer "Boolean phrase", en tik die volgende net so by die soekkassie in:
(internet cafe OR cybercafe) AND "Cape Town". Sommer die eerste antwoord lei jou na iC@fe in Kaapstad!

NOT
Partymaal kry mens heelwat ongewenste antwoorde met 'n soektog, waar daar 'n paar gemeenskaplike woorde in die antwoorde voorkom. As jy bv. 'n firma soek wat hekke en heiningdraad verskaf, gaan "Gates" jou heelwat antwoorde besorg oor 'n man met 'n bril en 'n vet bankbalans, wat niks te doen het met heinings nie (dalk wel met vensters?). Jy kan hierdie ongewenste antwoorde verminder deur hulle met die NOT operateur te onderdruk (bv: gates NOT Bill NOT Microsoft).

Jy soek die biografie van oom Bill (die gryskop een, nie die ryk een nie) se vrou. Laai Goto, en tik die volgende in: Hillary AND Clinton AND biography NOT Bill. Sommer 'n hele spul om uit te kies onder die eerste tien antwoorde, met geen teken van Bill nie!


IMPLISIETE OPERATEURS
Wanneer jy 'n paar los woorde sonder enige operateurs by 'n soekmasjien intik, gebeur een van drie dinge (sonder dat jy in kennis gestel word):

1. dit word as 'n frase beskou (maw net so goed of jy aanhalingtekens rondom getik het)
2. die soekmasjien plaas AND bewerkers tussen elke woord
3. die soekmasjien plaas OR bewerkers tussen elke woord

Dit is belangrik dat jy uitvind hoe die soekmasjiene (ek hoop daar is meer as een - moenie by net een vassteek nie!) van jou keuse los woorde hanteer. Hier is 'n paar voorbeelde:

1. Looksmart beskou los woorde as 'n frase.
2. AltaVista, Google, Hotbot en Northern Light plaas vanself 'n AND tussen alle woorde.
3. Infoseek plaas vanself 'n OR tussen alle woorde.

OPSOMMEND:
1. Gebruik die AND operateur as jy meer as 100 antwoorde op 'n soektog kry - hoe meer woorde jy met mekaar AND, hoe minder antwoorde (maw hoe beter) sal jy kry.

2. Gebruik die OR operateur as jy nie seker is oor die spelling of die gebruik van hoofletters en kleinletters van 'n woord nie (bv: Eskom OR Escom OR Evkom OR ESCOM).

3. Gebruik die NOT operateur as jy meer as 100 antwoorde kry, en as dieselfde ongewenste woord meermale in die antwoorde voorkom.

4. Leer ken jou soekmasjiene: doen 'n paar eksperimente om uit te vind hoe hulle los woorde hanteer (doen dieselfde soektog met en sonder aanhalingstekens en vergelyk die aantal antwoorde, ens).

 

ARTIKEL NOMMER 6 - 29 Februarie 2000

FOIOTI - KLINK NA GRIEKS?

http://www.mwe.co.za

Hierdie is die sesde en laaste van die eerste reeks artikels oor Internet soektogte. Indien daar genoeg belangstelling is, sal 'n tweede reeks later in die jaar volg.
Klik die FOIOTI model wat in hierdie artikel genoem word op die URL hierbo, en moet nie enige aanhalingstekens intik nie.

FOIOTI?
Nee, dit is nie 'n rekenaar met 'n Xhosa sleutelbord nie. Dit staan vir "Finder Of Information On The Internet", en is die naam van 'n eenvoudige maar doeltreffende program. FOIOTI is 'n resultaat van die outeur se navorsing oor Internet soektogte. Deur na te dink oor presies waarvoor jy eintlik soek, en dan vier vrae oor die onderwerp te beantwoord, kan jy jou kanse op sukses met 'n soektog heelwat verbeter. Lees die res van die artikel met FOIOTI op die skerm voor jou.

SPESIFIKASIE
Soos tevore reeds genoem, is die opstel van die spesifikasie van jou soektog die belangrikste stap. 'n Enkele woord, selfs 'n frase is nie goed genoeg nie - jy benodig ten minste een volsin wat baie spesifieke sleutelwoorde bevat. Spesifikasies wat te vaag is sluit die volgende in: Ek soek inligting oor rugby; Ek soek 'n nuwe werk; Ek wil meer weet oor padfiets ratstelsels, ens. Voorbeelde van goeie spesifikasies: Ek soek die eindtelling in die eindstryd van die 1999 wereldbeker rugby kompetisie; Ek soek werk as 'n e-handel C++ programmeur in Europa; Ek soek die tegniese spesifikasies van die nuwe Shimano 10-spoed agterste ratwiele vir padfietse, ens.

Tik nou die spesifikasie van jou keuse in FOIOTI se "Spec Box" in - as voorbeeld kan ons sę: "I need a weather forecast for Cape Town for Tuesday 29 February 2000".

HOOFLETTERS
Indien jy alles in hoofletters tik, sal jy probleme ondervind met soektogte! Kweek die goeie gewoonte aan om woorde en sinne te tik soos hulle in normale gebruik gespel word. Dit beteken die eerste letter van 'n sin en van name en vanne is 'n hoofletter, en afkortings word gewoonlik met net hoofletters geskryf (bv. Mandela, Siemens, FBI, DVD, HTML, ens). Die res is alles kleinletters.

Klik nou op die "Caps Box", en tik 'n woord in wat normaalweg met een of meer hoofletters gespel word. In ons voorbeeld sal "Cape Town" die beste keuse wees (al is dit meer as een woord) - tik dit in, en klik op "Phrase Box".

FRASE
'n Frase is twee of meer woorde wat uit 'n volledige sin gehaal is (my eie definisie!). Kies woorde wat verband hou met jou soektog, en vermy algemene woorde soos: "is, that, the, am, find, information", ens. Hoe langer die frase, hoe minder antwoorde gaan jy kry. Dit is 'n voordeel, totdat daar geen antwoorde oor is nie - in so 'n geval, maak die frase weer korter! In ons voorbeeld is 'n frase wat aan hierdie vereistes voldoen "weather forecast". Tik dit in, en klik op die eerste "Word Box".

WOORDE
Laastens moet jy twee enkelwoorde kies wat verband hou met jou soektog. Weereens, vermy algemene woorde, want dit gaan algemene antwoorde produseer! Indien jou spesifikasie heelbo in FOIOTI nie genoeg spesiale woorde oorhet nie, dink weer oor wat jy eintlik soek en brei uit op die spesifikasie. In ons voorbeeld sal "Tuesday" en "2000" goeie woordkeuses wees - tik die twee woorde apart in elke "Word Box" in.

Klik nou op enige een (of meer as een) van die drie soekmasjiene wat gelys word, en wag vir die antwoorde. Indien die antwoorde nie na smaak is nie, maak die soekmasjien toe, verander jou woorde en/of frase, en soek weer. In ons voorbeeld gee Webcrawler geen resultate nie, Excite gee 'n paar verwante webwerwe maar nie presies wat ons soek nie, en Hotbot is vol in die kol met die eerste antwoord.

HULP
Net bokant die grys kassie waarin FOIOTI leef, is 'n Hulp knoppie. Gaan kry gerus raad daar, en leer 'n paar interessante dinge by, soos watter tyd van die dag die beste tyd is om te soek, slim gebruik van die drie beskikbare soekmasjiene, ens.

OPSOMMEND:
1. Dink rustig na oor presies waarvoor jy wil soek - vul die eerste wit spasie in FOIOTI in detail in.

2. Indien een van FOIOTI se soekmasjiene nul antwoorde lewer, is die kanse goed dat jy 'n spelfout gemaak het! Gebruik 'n woordeboek of 'n kollega om te help "proeflees".

3. Indien jy meer as 100 antwoorde kry, las een woord by die frase by en soek weer - onthou dat die frase altyd in 'n sin moet kan inpas.

4. Wanneer jy 'n tweede lopie met FOIOTI wil doen, onthou om al die soekmasjiene wat huidiglik oop is toe te maak. Elke nuwe lopie skep 'n nuwe venster, en as jy nie versigtig is nie kan jy later deurmekaar raak tussen die baie knoppies onder in taakbalk!

Geniet FOIOTI, en laat my gerus weet of dit vir jou gewerk het (melius@gmail.com).